Beleid: Afwesigheid (Deel2)

Beleid: Afwesigheid (Deel2)
André Claassen
Afwesigheid is nie net ʼn probleem by groot maatskappye nie, maar ook vir kleiner organisasies soos eenman sake. Indien ʼn persoon ongeag die rede (insluitende siekte) nie by die werk kan wees nie, moet die werkgewer daarvan in kennis gestel word. Dit is nodig dat werkgewers ʼn bywoning register byhou sowel as ʼn beleid saamstel wat die afwesigheid kan bestuur. Die bywonings beleid moet stipuleer presies wat gedoen of hoe opgetree moet word in gevalle waar werknemers nie bevoeg is of in staat is om vir diens te rapporteer nie.
Die beleid moet aandui wie gekontak moet word in sulke situasies soos byvoorbeeld dat toesighouers of bestuurders direk gekontak moet word. Dit moet baie duidelik gestel word dat SMS boodskappe of e pos boodskappe nie aanvaarbaar is nie. Die rede hiervoor is eenvoudig aangesien kommunikasie baie maklik vermy kan word deur ʼn werkgewer per SMS in kennis te stel en dadelik die selfoon af te skakel om konfrontasie te vermy.
Die beleid behoort ook te stipuleer dat dit nie aanvaarbaar is dat ʼn familie lid of gade van die persoon wat siek is die werkgewer bel nie. Ten spyte van die feit dat die gades, lewensmaats, familie en vriende nie by die organisasie werksaam is nie, is dit realiteit dat dit eenvoudiger is indien iemand anders die toesighouer kontak en dit baie moeiliker is indien die toesighouer in persoon gekontak moet word.
Dit moet duidelik gestel word dat vakansie verlof vooraf goedgekeur moet word. Dit is nie aanvaarbaar om ʼn verlofvorm vir vakansieverlof te voltooi wanneer persone terug keer van verlof af nie. Die beleid moet stipuleer voor watter spesifieke tyd die maatskappy gekontak moet word. Dit is heel billik dat maatskappye waar skofwerk van toepassing is ʼn billike tydperk stipuleer van byvoorbeeld 2 ure voordat die skof begin dat die maatskappy in kennis gestel moet word. Dit sal die onderneming genoeg tyd gee om ʼn geskikte plaasvervanger te vind.
Hou asseblief in gedagte dat ons hier deel met maniere oor hoe om afwesigheid te monitor, daar is gevalle waar werknemers werklik siek kan word en realiteit is dat wetgewing voorsiening maak vir byvoorbeeld siek verlof . Dit is selfs moontlik dat ʼn familielid onverwags afsterf waarvoor gesinsverantwoordelikheidsverlof van toepassing sal wees. Dit is egter nodig dat die werkgewer voor ʼn sekere tyd of binne ʼn redelike tydperk in kennis gestel word.
Daar is dikwels baie goeie en oorspronklike verskonings van waarom werkers somtyds nie vir werk opdaag nie. Dit is nodig dat alle sake op meriete hanteer word, dit beteken nie noodwendig dat alle goeie verskonings aanvaarbaar is nie.
Geskryf in samewerking met Derek Jackson.






