Bedanking voor ʼn dissiplinêre verhoor

Bedanking voor ʼn dissiplinêre verhoor
André Claassen
Dit is ʼn algemene verskynsel dat werknemers wat klagtes van wangedrag in die gesig staar dikwels bedank voordat die dissiplinêre verhoor plaasvind. Die vraag wat dikwels gevra word is “watter opsies is daar vir die werkgewer as die werknemer bedank hangende die dissiplinêre verhoor”.
In sommige gevalle het die werkgewer reeds ʼn ondersoek gehou en tot die gevolgtrekking gekom dat wangedrag plaasgevind het en besluit dat dissiplinêre aksie noodsaaklik is. Hierdie oortredings is gewoonlik baie ernstig soos byvoorbeeld, diefstal, bedrog, in die besit wees van maatskappy eiendom sonder die nodige toestemming, dros, ernstige gevalle van insubordinasie of soortgelykte wanpraktyke.
Persone word normaalweg ontslaan by die skuldig bevinding van hierdie oortredings. Werknemers bedank gewoonlik vrywillig omdat hulle dink dat die bedanking die aantygings sal laat verdwyn omdat die werkgewer volgens hulle niks kan bewys nie.
Soms verkeer hulle onder die indruk dat ʼn vrywillige bedanking beter op hulle diensrekords sal vertoon as ʼn afdanking. Indien die werkgewer egter besluit om voort te gaan met die verhoor sal die werknemer se diensrekord steeds inligting bevat oor die beweerde oortredings asook aandui dat die verhoor in absentia gehou is tesame met die uitslag van die verhoor. .
Werknemers wat bedank en gevolglik nie opdaag by die dissiplinêre verhoor nie moet in gedagte hou dat die moontlikheid bestaan dat werkgewers tot die gevolgtrekking kan kom dat hulle skuldig is aan die aantygings. Hierdie persepsie is normaalweg gegrond op die feit dat hulle nie eens van die geleentheid wil gebruik maak om hulle kant van die saak te stel nie.
Daar is altyd 2 kante van ʼn saak en om nie die geleentheid te benut om die teendeel te bewys nie, kan die aanname moontlik gemaak word dat die werknemer skuldig is. Die werkgewer is geregtig om voort te gaan met dissiplinêre aksie selfs al het die werknemer bedank. ʼn Groot aantal werkgewers laat vaar egter die klagtes aangesien hulle eerder hulle tyd op ander “belangriker” sake wil spandeer.
Alhoewel die bedanking reeds ingedien is, is dit steeds die diskresie van die werkgewer om voort te gaan met die verhoor, al dan nie. Werknemers is steeds verantwoordelik om die ooreengekome kennis te gee soos gestipuleer in die dienskontrak. Hulle bly derhalwe in diens van die werkgewer totdat daardie datum bereik word, wat ook vir die werkgewer die geleentheid gee om voort te gaan met die verhoor.
By oortredings van ʼn kriminele aard soos byvoorbeeld diefstal of bedrog is werkgewers steeds geregtig om voort te gaan met kriminele klagtes.
Geskryf in samewerking met Derek Jackson.





