Afwesigheid

Afwesigheid
André Claassen
Soos bespreek in vroeëre artikels is ʼn dienskontrak nie eensydig nie, of word nie net een party daardeur bevoordeel of beskerm nie. Dit is byvoorbeeld die werker se reg om aan die einde aan die einde van die maand betaal word. Ten einde betaling te ontvang moet die werker sy dienste aan die werkgewer verleen soos ooreengekom. Afwesigheid beteken nie bloot om nie op ʼn dag by die werk te wees nie.
Afwesigheid beteken ook om:
- Nie betyds vir werk aan te meld nie. Dit is steeds afwesigheid as gevolg van die feit dat die persoon nie by die werk is nie;
- Vroeg van diens af te teken, weereens swak tydsbestuur deurdat die persoon nie by die werk is nie;
- Verlengde tee en etenstye. Die persoon is nie by sy werkstasie nie, en nie besig met die uitvoering van die pligte waarvoor hy aangestel is nie;
- Aan private besigheid tyd te spandeer gedurende werkstyd. Die probleem is tweeledig eerstens dat die persoon moontlik nie in persoon by die werk is nie terwyl daar aandag aan private besigheid gegee word en tweedens maak tegnologie soos byvoorbeeld die internet en sellulêre telefone dit moontlik om sekere besighede vanaf enige plek, ook die werksplek te bedryf;
- Op die internet te swerf,
- Verlengde rook periodes ens.
Dit is noodsaaklik dat bestuur in alle opsigte regverdig optree. Deur bloot een persoon toe te laat om byvoorbeeld laat te kom en tug stappe teen ʼn volgende werker te neem is onkonsekwent, spreek van dubbele standaarde en kan dit beteken dat daar indirek teen die persoon gediskrimineer word.
Om bloot die situasie te ignoreer sal die probleem vererger aangesien die boodskap uitgestuur word dat dit aanvaarbaar is om laat te kom, vroeër van diens te gaan ensovoorts. Die probleem wat hier ontstaan is wanneer en hoe tree ʼn mens dan teen hierdie persone op? Om die afwesigheid aan te spreek sal dit nodig wees om ʼn beleid saam te stel ten einde met die probleem te deel.
Sodra die beleid saamgestel is moet dit aan die bestuurders, toesighouers en personeel verduidelik word, die datum van inwerkingstelling moet ook weergegee word. Die belangrikste faktor sal wees om die beleid te monitor, sonder monitering sal die beleid van geen waarde wees nie. Ons kyk volgende week na watter inligting in die beleid vervat moet word en verskaf riglyne oor hoe om die situasie te monitor.




