Krag onderbrekings (deel 2)

Krag onderbrekings (deel 2)
André Claassen
Soms gebeur dit dat werknemers laat vir werk opdaag as gevolg van verkeer probleme.Hierdie laatkommery ontaard soms in dissiplinêre aksie. Die vraag wat ontstaan is dit regverdig dat dissiplinêre aksie geneem word as daar seer sekerlik ʼn rede vir die laatkommery is. Alhoewel laatkommery onaanvaarbaar is, en baie werkgewers heeltemal tereg die houding inneem dat ʼn goeie verskoning nie normaalweg ʼn aanvaarbare verskoning is nie, is dit belangrik dat werkgewers steeds elke saak op meriete hanteer en is dit nodig dat daar na ook die werker se kant van die saak geluister word.
Daar moet ingedagte gehou word dat werkgewers nie net vanselfsprekend kan aanvaar dat die laatkommery regstreeks verband hou met die krag onderbreking nie. Ongelukkig soos met alle ander situasies in die lewe, maak individue soms misbruik van die stelsel en gebruik dit partykeer as ʼn skuiwer gat om laatkommery te regverdig, en dit dan te blameer op die krag onderbrekings. Van tyd tot tyd gebeur dit, soos die afgelope week, dat daar in sekere areas selfs geen onderbrekings plaasvind nie en dat Eskom steeds vir laatkommery geblameer word. Dit is nodig dat daar na elke situasie se meriete gekyk word en dat al die feite in ag geneem word voordat daar tot dissiplinêre aksie oorgegaan word.
Dit kan handig wees om die werknemer se vorige werkrekord in ag te neem. Indien die persoon nie ʼn geskiedenis van laatkommery het nie, bestaan die moontlikheid dat dit wel toegeskryf kan word aan ʼn onderbreking. Die teenoorgestelde is egter ook waar dat indien ʼn persoon wat normaalweg ʼn geskiedenis van die tipe oortreding het nie noodwendig geglo gaan word nie. Ek het verlede week verskeie maniere genoem ten einde op te maak vir verlore tyd en produksie. Een van die maniere is om die werkers te versoek om oortyd te werk. Werknemers wat minder gunstig deur hulle werkgewers behandel word soos byvoorbeeld dat hulle nie soos normaalweg hulle bonusse ontvang het nie, sal egter minder gretig wees om die ekstra moeite te doen ten opsigte van die werk van oortyd vir die werkgewers.
ʼn Situasie kan selfs ontstaan waar daar van dieselfde werkers waarteen daar dissiplinêre aksie geneem word as hulle laat opdaag vir werk verwag kan word om oortyd te werk wanneer dieselfde noodlot die werkgewer tref. Dit is ʼn sprekende bewys dat die werksverhouding tweeledig is. Dit is ook ʼn bewys dat werkgewers en werknemers op mekaar se lojaliteit moet staat maak. Die onderbrekings wat gepaard gaan met verliese in produksie moet met omsigtigheid deur beide partye hanteer word aangesien dit kan lei tot die aflegging van personeel deur operasionele vereistes.






