Bevordering / Aanstellings

Bevordering / Aanstellings
André Claassen
Baie argumente ontstaan in die werkplek rondom bevordering. Die oorsprong is gewoonlik by die aftrede, bedanking of bevordering van ʼn spesifieke posbekleër in ʼn pos of selfs by die by die skep van ʼn nuwe pos. Werknemers verkeer soms verkeerdelik onder die indruk dat omrede hulle alreeds permanent by die werkgewer werksaam is, of ʼn aantal jare ondervinding in die posvlak net onder die vakante pos het, dat hulle geregtig is om bevorder te word. Soms verwag hulle selfs dat hulle voorkeur bo ander eksterne aansoekers behoort te kry wanneer poste gevul word.
Werknemers is nie in posisie om aanspraak te maak op enige poste nie aangesien hulle nie outomaties geregtig op bevordering na hoër of meer senior poste is nie. Die werknemer kan egter geregtig op bevordering wees indien daar spesifieke voorwaardes in die dienskontrak gestipuleer is. Bevordering is die diskresie en prerogatief van werkgewers en dit staan hulle vry om persone te selekteer wat na hulle opinie die beste kandidate vir ʼn spesifieke pos is.
Dit is noodsaaklik dat die normale werwings en selekterings prosedures steeds gevolg word en dat daar in alle opsigte regverdig en objektief opgetree word. Aangesien werkgewers reeds vertroud is met die gedrag van bestaande werknemers kan dit voordelig wees om voorkeur aan hierdie persone te gee. Hierdie optrede is normaalweg ook goed vir die moraal van bestaande werknemers aangesien dit die boodskap uitstuur dat goeie werk en lojaliteit beloon word.
Dit is onrealisties om te verwag dat faktore soos byvoorbeeld die interne aansoeker se vorige dissiplinêre rekord, bestuurs vaardighede, lojaliteit teenoor die maatskappy, ensovoorts nie deel van besprekings en besluitnemingsproses sal vorm wanneer besluitende rakende die geskikste persoon vir die pos geneem word nie. Bevordering is die verheffing of verhoging van individue tot ʼn hoër pos, wat normaalweg gepaard gaan met ʼn verhoging in salaris en/of voordele, meer verantwoordelikheid en selfs status.
Werkgewers moet toesien dat die selektering en werwings prosesse regverdig is aangesien dat die blote weiering om werkers te bevorder kan neerkom op ʼn onbillike arbeidspraktyk. Hierdie is egter nie ʼn maklike proses nie aangesien daar dikwels meer as een applikant van binne die organisasie vir ʼn pos is. Wanneer die persone in poste aangestel word is dit menslik dat daar ongelukkigheid by ander werknemers gaan wees.
Realiteit is dat daar altyd dispute sal onstaan wanneer hierdie tipe van besluite geneem word, aangesien applikante gewoonlik dink dat hulle die werk beter as die volgende persoon kan doen, beter gekwalifiseerd, meer ondervinding ensovoorts as die volgende persoon het.





